Laerskool Tuine

Geskiedenis

Geskiedenis van Laerskool Tuine

Laerskool Tuine is op 7 April 1953 afgestig van ons twee buurskole, Laerskool Hermanstad en Laerskool Generaal Nicolaas Smit. Dit was nog in die tyd van vasgestelde voerareas en 464 leerders is op die eerste dag ingeskryf. Mnr JP Malan, 'n inspekteur van Onderwys, het as waarnemende hoof opgetree en daar was 13 personeellede. Die skool staan eers bekend as Pretoria Tuineskool.

Mnr JM Steyn word op 25 November 1953 as hoof aangestel. In 1956 en 1957 agtereenvolgens ontvang die skool die eerste plek vir die beste skooltuin aangebied deur die Genootskap van Oud Pretoria.

Op 20 Januarie 1964 aanvaar Mnr R Rautenbach diens as hoof, nadat hy reeds sedert Julie 1954 op die personeel gedien het. Op 1 Augustus 1983 word Mnr H Skinner hoof, nadat Mnr Rautenbach met pensioen gaan.

Op 28 Februarie 1989 word die 1ste rekenaar vir die stig van 'n rekenaarsentrum ontvang. Na Mnr H Skinner in 1998 sy 30 jaar getroue diens in die Onderwys vier, is hy weens vervroegde pension af en word Mnr A du Plessis aangestel op 1 April 2000.

Die skool se leerlingtal het gegroei vanaf 464 na meer as 650 in 2001. In 2001 word 'n puik toegeruste rekenaarsentrum geopen deur Mnr A du Plessis.

Die huidige hoof Mnr Willie Steyn begin sy pos as waarnemende hoof van Laerskool Tuine op 16 Januarie 2002, terwyl Mnr A du Plessis tydelik uithelp by 'n ander laerskool. Die leerdertal staan nou op 690 leerders.

Op 30 Mei 2003 word daar 'n Gala-aand by die skool gehou ter viering van die skool se 50-jarige feesvieringe. Van heide en verre, sover as Duitsland, het 'n honderdtal oud-skoliere, -onderwysers en -ouers die spogdinee in die skoolsaal bygewoon.

Op 9 Januarie 2006 word Mnr W Steyn aangestel as die hoof van Laerskool Tuine, nadat Mnr A du Plessis besluit het om die onderwys vaarwel toe te roep en na die privaat sektor te beweeg.

In Januarie 2011 spog Laerskool Tuine en Groenie Nessie Kleuterskool met 885 leerders. Daar het vir 2011 'n rekordgetal Graad-1 leerders van 124 ingeskryf!

In 2014 het die skool 60 jaar oud geword, en die getal leerders het baie toegeneem.